Hoe oorleef mens sielkundig te midde van die negatiwiteit en probleme?

Tar road winding through the hills

In Suid Afrika praat ons met groot gemak oor alles wat verkeerd loop. Die nuusgebeure van die dag voed hierdie vloed van negatiwiteit en vrees.

Die probleem is dat negatiewe inligting en opinies baie maklik bekombaar is, en deur die elektroniese media ‘n lewe van hul eie kry. Dis baie meer waarskynlik om van slegte gebeure te hoor as om berigte of sosiale mediaplasings te sien oor die alledaagse goeie dinge. Die stroom van negatiwiteit kan mens maklik meesleur.

As mens jou bloot laat lei deur wat in die media, gerugte en plaaslike oorlewering aangaan, is dit maklik om te voel en glo dat alles om jou besig is om uit mekaar te val. In Suid-Afrika word dit baie maklik om te voel dat rassehaat en venein alom aangaan. Maar is dit in werklikheid so?

Mens kan nie ontken dat aaklige insidente voorkom nie of dat daar werklike kommerwekkende tendense in ons gemeenskap is nie. Maar gaan mens die indrukke glo wat in die vreslaggewingsspasie gebeur, of dit glo wat in die alledaagse omgang gebeur?

Ek gaan doen inkopies, of neem my motor vir ‘n diens, of koop ‘n koerant langs die pad en sien dat meeste van ons net probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou, dat die meerderheid interaksies met ‘n goeie gees en waardigheid plaasvind, dat mense elke dag saam werk sonder om mekaar dood te maak.

Wat is waar:  my alledaagse ervaring versus wat ek vertel word in die media? Watter een sal ek glo? Miskien is die waarheid tuseen die twee uiterstes.

Dit is so maklik om saamgesleur te word deur ‘n vloed van vrees, haat en kritiek. Hoe meer negatiewe kommentaar en opinies daar is, hoe meer versterk dit mens se eie negatiewe oortuigings.  En hoe groter word die stress.

Sonder om ons probleme en uitdagings enigsinds af te maak, noop dit elke individu om te besluit of jy sal toelaat dat die negatiwiteit jou meesleur of jy aandersinds sal kies om voort te gaan op ‘n meer konstruktiewe trant.

Ons inligtingsomgewing het die potensiaal om ons as individue te ondermyn, om ons te laat glo dat ons net nie meer kan aangaan nie. Las daarby werklike traumatise gebeure in ‘n komplekse wereld wat vining verander, en dinge begin maklik hopeloos lyk.

Die vraag is hoe oorleef mens sielkundig te midde van die negatiwiteit en probleme?

Daar is nie ‘n enkele eenvoudige antwoord nie, maar in my werk sien ek te dikwels hoe mense ophou glo in hulle eie kapasiteit om situasies te hanteer en half vergeet van die kere wat hulle wel uitdagings te bowe gekom het.

As ons vir onsself vertel hoe erg dit is, en hoe bang ons is, en ons dan onder mekaar aanhou gesels hoe goor alles is en al ons negatiewe verwagtings en suspisies oor en oor herhaal; verloor mens maklik jou vermoë om te sien hoe jy meestal die wêreld en sy uitdagings heel goed hanteer. Dat ons baie meer kreatief en sterker is as wat ons in ons gemoed vir onsself voorstel.

Ons neig ook om ‘n verwagting te hê dat die lewe vlot behoort te verloop en maklik moet wees. Dis ’n goeie wens maar egter onwaarskynlik dat dit ooit sal waar word. Ons kan uit die geskiedenis sien dat daar waarskynlik nooit ‘n geslag op aarde was wat nie sy eie worstelinge gehad het nie. Die wêreld is moeilik en uitdagend en alom stresvol.

In kort, lê die antwoord waarskynlik deels in jou beskouing van jou eie uithouvermoë en deels in jou beskouing en verwagtings van die wêreld.

As ek myself as swak en oorweldig beskou en die lewe as totaal bedreigend aanskou, is daar net een pad – die pad van depressie en hopeloosheid.

Dit kan dus help om te dink oor jou eie verwagtings van jouself in kombinasie met jou beskouing van die wêreld om jou. Verwag meer van jouself en minder van die lewe.

‘n Perfektionistiese verwagting dat die wêreld en ander mense foutloos moet wees en alles soos ‘n groot geoliede masjien moet werk, lei net tot teleurstelling en uiteindelik tot woede. As mens van die veronderstelling uitgaan dat die wêreld nie eenvoudig is nie, en oplossings nie eenklaps ter hand gaan kom nie, het jy jou houding aangepas en jouself van teleurstelling en onnodige irritasie bevry.

Insgelyk; as mens vir jouself aanhou vertel hoe vreesagtig jy moet wees omdat jy niks sleg of moeilik kan hanteer nie, het jy soortvan jou eie sielkundige graf gegrawe. Die lewe is moeilik vir almal – elk op sy eie unieke manier – kyk na jou eie lewe en sien hoeveel probleme en uitdagings jy te bowe gekom het, hoeveel lesse jy geleer het en hoeveel planne jy gemaak het en laat werk het – dit sal jou help om jou selfbeskouing te verbeter.

As jy nog hier is en nog staande is, is jy ‘n wenner.

Sukkel jy om moed te hou? Kom gesels met my oor jou emosionele uitdagings.

One Comment

  1. Goed gestel Hélène.
    Baie liefde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *